Joe Slingers: Ek bring vir jou my kind

This story was originally published in Volksblad newspaper in Bloemfontein in 2012. We share it here because Mr Joe Slingers, an educator from Uitenhage, will be one of our speakers at the TEDxPortElizabeth conference on Friday, 1 July 2016 at the AFDA Film School, Port Elizabeth.

ONDERWYSER, ek bring vir jou my kind.

Met hierdie eenvoudige dog roerende woorde sal tienduisende ouers aanstaande maand hul kind voor die deur van ’n gr.1-klaskamer afsien en hom of haar die eerste keer aan die sorg van ’n onderwyser toevertrou.

Die mens wat hierdie kosbare woorde van opeenvolgende generasies ouers in herinnering bring, is Joe Slingers, ’n veteraan-onderwyser en skoolhoof. Hy word vereer op Uitenhage, ’n klein dorp waarvan die ekonomiese voortbestaan byna uitsluitend van die Volkswagen-aanleg op sy drempel afhang.

Een van sy mees vooraanstaande studente uit die Hoërskool Uitenhage, Ghauderen Coetzee, het ’n pragtige lofgedig ter ere van Slingers geskryf. Dit is opgeneem in die nuwe boek Great South African Teachers.

Joe Slingers, Ghaudren Coetzee, Jonathan Jansen Book Signing
Joe Slingers, Ghaudren Coetzee, Jonathan Jansen Book Signing in 2012

Ek luister aandagtig na die goed bewoorde toespraak van die veteraan-onderwyser.

Met apologie aan dienende onderwysers: Ek hoor nie meer sulke belesenheid, balans, emosie, gedissiplineerdheid, sorg en welsprekendheid in die stemme van onderwysers nie.

Sy beheerste ontleding van wat ouers van die ontvangende gr.1-onderwyser verwag, vervul ’n mens met besorgdheid namate jy begrip kry vir die ontsaglike verantwoordelikheid wat oorgedra word in die woorde: “Ek bring vir jou my kind.”

Met die oorhandiging van hul kind aan die onderwyser ervaar die ouers verskillende emosies. Die ma wat haar kind oorhandig, verwag nie dat die kind sal misluk nie. Sy kan haar ook nie voorstel dat haar kind in die komende 12 jaar, of meer, van formele skoolopleiding op die skoolterrein of in die klaskamer seergemaak, misbruik of verneder word nie.

Sy veronderstel dat haar kind dieselfde sorg, liefde en toewyding as dié wat sy as moeder koester, sal ervaar.

Tog weet sy in haar hart dat die oorhandiging risiko’s inhou en dat, afhangend van die skool, die kans skraal kan wees dat haar kind gr.12 gaan bereik, en nog skraler dat die kind haar finale jaar ongedeerd sal bereik.

En so hoop ’n mens dat die kind nie te erg afgeknou sal word nie, dat endemiese stakings deur vakbonde nie die kind se vordering sal kortwiek nie, dat die meisie wellustige manlike onderwysers gespaar sal bly, en dat die kind raakgesien sal word wanneer sy in ’n oorvol klas haar hand opsteek.

Ek bring vir jou my kind.”

Dié oomblik van oorhandiging is vir enige ouer verskriklik. Ek het dit twee keer gedoen.

Terwyl jou kind hand aan hand saam met die onderwyser wegstap, kyk hy of sy na jou terug.

Tensy jy ’n hart van klip het, vloei die trane dan.

Jy hoop maar net dat die ses jaar van sorg en koestering onder jou voogdyskap jou kind die volgende 12 jaar taai sal maak vir die moeilike omgewing, genaamd skool. En jy wens ten diepste dat die nuwe volwassene wat in loco parentis sal optree, jou kind met dieselfde toewyding as jy sal liefhê, versorg en onderrig.

Terwyl ek na die onderwyser Joe Slingers se passie en oortuigingskrag luister, hoor ek die stemme van ander meester-onderwysers: Nat Bongo, H.H. Dlamenze, Ernie Steenveld, Winkie Direko, Harold Samuel, T.W. Kambule en talle ander.
Strydrosse soos hulle is deesdae skaars.

Onderwyser, ek bring vir jou my kind.

Waarop die ontvangende onderwyser – in die onvergeetlike woord van Joe Slingers – sê: “Sannie, kom saam met my. Ek is jou onderwyser.” En met daardie woorde van liefde en gesag begin vir die kleintjie ’n nuwe lewensreis

source: Prof Jonathan Jansen in Volksblad (2011)

Connect with TEDxPortElizabeth on Social Media

Newsletter

Reader Interactions